Nog jongboer finaliste aangewys

Kobus Visser, Direkteur: Koroporatiewe Skakeling

Die volgende jongboer finaliste vir die Toyota SA/Agri SA 2016 Jongboer van die Jaar kompetisie is pas aangewys. Die nasionale wenner sal later vanjaar aangewys word. Dit is die twaalfde jaar dat Toyota SA die kompetisie borg. Agri SA beskou die kompetisie as van groot waarde omdat jong rolmodelle geïdentifiseer word en noodsaaklik is vir nuwe toetreders en ook vir die toekoms van die bedryf. Die finaliste is die room van die jongboere van Suid-Afrika.

Wes-Kaap: Jacques Beukes

Die derde finalis in vanjaar se jongboer kompetisie is Jacques Beukes, 'n tafeldruiwe-produsent van De Doorn in die Hexriviervallei. Jacques is as die wenner van Agri Wes-Kaap aangewys, waar hy te staan gekom het teen ses briljante jong boere. Hy is getroud met Heleen en die egpaar het twee kinders. Jacques boer die afgelope 10 jaar op die plaas Modderfontein. Hy beskik oor 'n B Com-graad in logistiek aan die Universiteit van Stellenbosch.

Hy het 'n voorliefde vir die tafeldruifbedryf en is van voorneme om toenemend te belê in sy besigheid. Volgens Jacques bring jongboere nuwe idees en energie na die ekonomie en hou van ontwikkelings en nuwe uitdagings. Deur hoë standaarde na te streef, word druk op ander produsente geplaas, om so hulle standaarde te verhoog en daardeur by te dra tot 'n beter landboubedryf in Suid-Afrika.

Jacques is Agri Wes-Kaap se streeksverteenwoordiger, is 'n direkteur van die Hexriviertafeldruifvereniging en voorsitter van die Breedevallei Munisipaliteit se Produsenteforum.

Mpumalanga:  Japie Landman

Japie Landman is die vierde finalis in die kompetisie en is op 5 Mei 2016 tydens Mpumalanga Landbou se jaarlise kongres dinee aangewys as dié organisasie se jongboer wenner. Hy is getroud met Cecil en die egpaar het een kind. Hy beskik oor 'n Bcom Agribesigheidsbestuursgraad van die Universiteit van Pretoria.

Japie boer op die plaas Vlackdrift in Volksrust distrik met mielies, soja en beeste. As saaiboer gebruik Japie water ekonomies en minimumbewerking word toegepas. Hy boer reeds vir agt jaar saam met sy pa, maar is verantwoordelik vir die besluitneming van sy afdeling.

Volgens Japie is jongboere die toekoms van landbou. "Jongboere gaan alhoemeer innoverend moet wees om werk te skep, voedselsekuriteit te verseker en grondhevorming te hanteer." Hy is ook van mening dat daar groot waarde is om in kontak te wees met ervare suksesvolle boere van wie kennis bekom kan word.