Donasies aan die Agri SA Droogterampfonds vloei steeds in

Meer as twee miljoen rand is die afgelope maand deur maatskappye soos Shell en Engen aan Agri SA se droogtefonds geskenk. Verder het SANSOR R50 000 geskenk. Kospakkies is ook deur Shoprite aan plaaswerkergemeenskappe in droogtegeteisterde gebiede in Jozini, KZN en Steinkopf in Namakwaland geskenk.

Kommersiële- en opkomende landbouers in die Springbok-gebied het 2 400 sakke voerpille ontvang en in Noordwes is 300 vragte mieliereste by landbouers wat geen voer het, afgelewer. Agri SA is baie dankbaar vir die bydraes vanuit die privaatsektor en die rol wat die provinsiale leierskap gespeel het om ruvoer afgelewer te kry. Die grootse poging bring nie net hoop vir landbouers nie, maar ook vir die hele land wat afhanklik is van die kos wat deur ons landbouers geproduseer word.